Breaking News

Harde werk begin nou, sê Vermeulen

Written by Admin Published in Afrikaans

Andrew Poolman – Wat hierdie jaar en in die laaste week goed genoeg was, sal nie in 2015 goed genoeg wees indien Namibië ’n nuwe hoofstuk by die Wêreldbekertoernooi in Engeland wil skryf nie.

Dit was die boodskap van die Namibiese rugby-afrigter, Danie Vermeulen, aan die Welwitschia-toergroep op die oggend van hul vertrek huis toe nadat hulle die kwalifiserende toernooi in Madagaskar op die laaste dag op dramatiese wyse ingepalm het.
Nadat Kenia en later Zimbabwe aanvanklik in die toernooi na die gunstelinge gelyk het om die plek as Afrika-kwalifiseerder in te palm, het die span onder aanvoering van Rohan Kitshoff in sy laaste wedstryd vir Madagaskar met 89-10 oorrompel om die toernooi met ’n beter puntever­skil te beklink.

Gevolglik sal Namibië in September volgende jaar in die WB-toernooi se groep C saam met die verdedigende kampioen Nieu-Seeland, Argentinië, Tonga en Georgië aantree.
Vermeulen en sy manne het min illusies dat hul kwalifikasie in Madagaskar ’n wonderwerk en ’n getuienis is.
“Julle het ons (as afrigterspan) trots gemaak, julle het die land trots gemaak, maar die groot ding is ons moet nederig bly en ons voete op die grond hou. En nou begin die grote,” het die afrigter gesê.

“Ons weet daar was reeds vier Namibiese spanne voor ons (wat gekwalifiseer het), maar hulle kon nie ’n wedstryd by die Wêreldbeker wen nie. Dit was ons missie van die begin af – om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer en dan minstens een of dalk twee wedstryde te gaan wen. Dit is waar ons fokus nou moet wees. As ons nou net wil roem en dink die werk is nou klaar gedoen, dan gaan ons dieselfde resultaat as die vorige vier spanne sien.

“Ouens gaan nou terug (na hul klubs en unies in) Suid-Afrika en Europa en Windhoek toe, maar dit moet elke ou se verantwoordelikheid wees om jouself fisies in die beste kondisie te kry wat moontlik is vir volgende jaar. Kom ons vat daai uitdaging, want Michiel (Greeff, die span se krag- en kondisioneringsafrigter) is nie daar om elke speler dop te hou nie, want sommige is in Suid-Afrika of in Frankryk. Die fisiese aspek is elke speler se eie verantwoordelikheid.
“Hopelik sien ons mekaar dan weer in November (wanneer ’n toer na Europa beplan word).
“Ek is ongelooflik trots op elkeen van julle bulle. Dit was rêrigwaar ongelooflik hoe julle die uitdaging aangegryp het toe ons (ná die uitslag tussen Kenia en Zimbabwe) besef ons is in met ’n kans. Toe die kans aan ons gebied is, het ons dit eenvoudig gevat en die deur in die ander spanne se gesig toegemaak.”

Te danke aan republikein.com.na


Leave a Reply

Your email address will not be published.